Die wonderkuur van die gode Allium Sativum

garlic

 

Knoffel, 'n lid van die lelie-familie, gelief en gehaat weens sy sterk geur, word al vir nagenoeg 5000 jaar vir medisinale doeleindes gebruik. Knoffel is reeds al deur die Israeliete, Babiloniërs, Chinese, Grieke, Romeine, Egiptenare, en die Vikings gebruik.

 

Gedurende die eerste wêreldoorlog het 'n weermag geneesheer by gebrek aan iets anders knoffelsap met water verdun en met die gewenste resultate dit in oop wonde toegedien. Doktor Piotrowski van die Universiteit van Geneve het tydens sy navorsing in die behandeling van pasiente met hoë bloeddruk gevind dat knoffel die bloedvate sodanig dilateer of verwyd dat dit die drukking verlig het. Professor Gurwitch van Rusland het ontdek dat knoffel sekere ultra violet uitstraal, bekend as mitogenetiese radiasie en dat hierdie uitstralings die vermoë het om selgroei en –aktiwiteit te stimuleer en 'n verjongingseffek op alle liggaamsfunksies uitoefen – 'n mondvol vir so 'n eenvoudige en nederige produk, met die geleerde naam Allium Sativum.

Geskiedenis wil dit hê dat in 1726 'n gevreesde pes-epidemie in die Franse hawestad, Marseille uitgebreek en duisende slagoffers afgemaai het. In die omgewing was daar vier struikrowers wie se bewegings uit die aard van hul misdaad aan bande gelê was en die dorp dus nie kon verlaat om die epidemie vry te spring nie. Hul oorleef die pes egter om hul verhaal te vertel – deur 'n self saamgestelde drankie van knoffel and asyn te trek en te drink! In Europa staan dit bekend as "baanstropersazjin", 'n wonderlike geneesmiddel waarvan die ouer geslag altyd gepraat het.

Sekere eienskappe van knoffel is nie anekdoties nie!.

Alhoewel baie van die toegedigte eienskappe van knoffel dalk anekdoties (staaltjies) mag wees, word die wetenskaplik gefundeerde eienskappe van knoffel nie betwis nie. Knoffel word vandag nog met sukses gebruik vir ingewands-ongesteldhede en slegte spysvertering omdat dit sekere maagsappe stimuleer, hoë-bloeddruk omdat dit die bloedvate dilateer, en sommige glo selfs dat dit vir impotensie help (dalk iets te doen met die delitasie van die bloedvate?). Dit is ook al bewys dat knoffel bloedsirkulasie aanhelp en parasiete soos haar- en lintwurms vernietig, hoewel Prof. Dr. Van Gemsbergen van België laasgenoemde in sy boek "Duivenaria" betwis. Studies het ook aangedui dat knoffel help om bloedklonte te voorkom en met die afbreek van cholestrol, wat die are kan verstop en aanleiding tot hartkwale kan gee. Knoffel ondersteun die immuun-stelsel en help met die weerstand teen virus-infeksies en infeksies in die longe, ingewande en asemhalingorgane.

Maar baie belangrik, knoffel is 'n voedsel en nie medisyne met al die newe effekte van medikasie nie en kan daarom met 'n geruste hart aan ons duiwe selfs saam met medikasie, vitamine en minerale toegedien word.

Maar wat is knoffel nou eintlik?

Wat is knoffel en wat maak dat al hierdie eienskappe aan die plant, Allium sativum, toegedig word en dat dit vir soveel eeue al nog stand gehou het en nie verkeerd bewys is nie, al is sommige van die lofprysing van knoffel se eienskappe as anekdoties (staaltjies) afgemaak. Die plant word saamgestel uit onder andere, twee swaelhoudende samestellings bekend as alliin en allisien, en is ook ryk aan sisteien en metionien, twee aminosure wat baie belangrik tydens die verveerproses is. Knoffelolie bevat 60% allisien, vandaar die sterk reuk.

Allisien die bron van die medisinalekrag van knoffel.

Wanneer die knoffelknol fyngemaak of gekneus word, word allisien vrygestel deur 'n ensiemreaksie (allinase) gebaseer op 'n bestaande chemiese bestanddeel, alliin. In hierdie wonderproses lê die medisinalekrag van knoffel. Indien knoffel egter gekook sou word, word die ensiem allinase, vernietig. Vir hierdie rede is dit baie belangrik dat wanneer u knoffelprodukte vir u wedvlugduiwe sou gebruik, u baie seker moet maak dat daar tydens die voorbreiding van die knoffelproduk nie 'n verhitting of kookstadium was nie! Om baie seker te maak word dus aanbeveel dat vars knoffel liewer gebruik word wanneer daar 'n terapeutiese bedoeling met die gebruik daarvan is.

Knoffel bevat ook geringe vitamien bestandele, aangesien die lobbe wel vitamien A en C bevat, maar ek sou sê dat dit nie juis as 'n vitamienbron beskou moet word nie. Die knoffelknol is egter baie ryk aan minerale soos mangaan, koper, sink, swael, kalsium, klorien, germanium en selenium, laasgenoemde twee minerale wat baie belangrik vir die duif se immuunstelsel is. Jules Gallez, in sy boek "Honderd-en-een Metoden" verduidelik dat knoffel ook nog jodium (0,094mg op 100g) bevat. Ons weet dat jodium die skildklier stimuleer wat die metabolisme bevorder.

Knoffel se uitwerking op die bloedvate.

Ek wil graag weer terugkom na doktor Piotrowski van die Geneve Universiteit se navorsing oor hoë bloeddruk en wat dit vir ons duiwe kan beteken. Daar sal onthou word dat die navorsing bewys het dat knoffel die eienskap openbaar het om die bloedvate te dilateer of te verwyd en sodoende die drukking daardeur te verlig. Die dilateering of verwyding van bloedvate het 'n belangrike voordeel vir ons duiwe omdat dit die viskositeit verlig en bloedvloei verhoog en daardeur die voedselbestandele en suurstof wat deur deur die bloed na die selle vervoer word en die afvoer van afvalprodukte, dienooreenkomstig versnel. Dink net vir 'n oomblik hoe hard die duif se hart moet werk om die hoë druk te akkommodeer wanneer die duif ure aaneen op die vlerk tydens 'n wedvlug moet wees. Indien die druk deur dilatasie van die bloedvate en verminderde viskositeit verlig word, kan die pomp (hart) onder minder spanning verkeer met groter effektiwiteit funksioneer. Omdat knoffel die cholestrol en triglisirienvlakke in die bloed verlaag, stel dit die wedvlugduif instaat om die wedvlug met minder spanning en stres te voltooi. Dit kan vergelyk word met die olie wat die laers in die masjien makliker laat draai.

Knoffel bevorder selgroei en aktiwiteit.

Wat Professor Gurwitch se navorsing betref waar knoffel deur mitogenetiese radiasie selgroei en aktiwiteit stimuleer, die volgende. Wanneer ons duiwe noodwendig liggaamsvesel tydens 'n moeilike wedvlug, wanneer ander bronne uitgeput is, moet aanwend om energie te verskaf om die wedvlug te voltooi, sal knoffel die liggaam ondersteun om die verslete organ of spier vinniger te vervang en so die duif na tuiskoms gouer weer vluggereed te kry.

Die chemiese eienskappe van knoffel.

As gevolg van allisien, teenwoordig in knoffel, toon knoffelsap sterk anti-bakteriese en anti-fungus-eienskappe. Dit verhinder die groei en dood selfs ongeveer twee dosyn tipes bakterië insluitende Salmonella, en 60 tipes gis en groeisels. Knoffel is een van die beste bronne van germanium en selenium, twee spoor-elemente wat belangrik is in die ontwikkeling van die immuunstelsel van die duif. Dit stel die duif se liggaam in staat om vele patogene wat siekte veroorsaak te beveg.

Knoffel as anti-toksidant en insek-weermiddel.

Volgens Dr Collin Walker in sy boek "The Flying Vet's Pigeon Health Management" het knoffel ook die antitoksiese vermoë getoon om sekere ensiemes te stimuleer wat toksiese substanse uit die liggaam verwyder. Vir die rede verwys duiweboere na die "bloed-suiweringsvermoë" van knoffel, wat dit ook mag beteken.

Dit is miskien 'n verkeerde afleiding of uitdrukking, maar dit daar gelaat, daar is wel chemiese bestandele in knoffel wat die liggaam help met die ontgiftiging, neutralisasie en eliminasie van giftige substanse in die weefselselle.

Knoffel is ook geskik as 'n insek-weermiddel en is effektief teen miskiete en ander peste. Dink net aan die voordele as u duiwe van die muskietbyte saans bevry kan word om van die duiwevlieg en verspreider van Pseudomalaria nie eers te praat nie.

Die meeste duiweboere is bewus van knoffel as hulpmiddel vir duiwe.

Daar is seker baie min van ons duiweboere wat nie in 'n mindere of meerdere mate van die voordele van knoffel geweet het nie, maar dit nie belangrik genoeg geag het om gereeld te gebruik nie. Ons kan amper sê dat baie van knoffel minag of as "ouvrou stories" of anekdoties, afmaak. Wel jammer vir u. Vir die van u wat na die lees van hierdie artikel besluit het om knoffel weer deel van u regime te maak, net 'n paar voorstelle hoe om dit vir u duiwe te gebruik.

Dit kan oor die kos of in die water toegedien word. Gebruik 'n bietjie olie (Plume-plus, wat reeds ook knoffelolie bevat) om die kos te benat en strooi 'n bietjie knoffelpoeier daaroor, roer goed en bedien een of twee maal per week tydens die wedvlugseisoen en verveerseisoen. Indien u dit in die water wil bedien, neem 3 of 4 knoffelhuisies, skil dit en plaas dit saam met 'n fi liter water in 'n versapper en meng vir 'n paar minute. Gebruik hiervan 250ml of 5 liter water. As u die watermetode gebruik ruil die water twee maal per dag om ten minste voor elke voeding. Onthou, knoffelsap in die water een of twee maal per week!

Dave Allen, 'n bekende Britse duiweboer sweer by knoffel. Hy beveel die volgende aan vir die voorbereiding van 9 liter drinkwater. Neem vier knoffel huisies en kap dit in klein skyfies. Plaas in 'n twee liter bottel en vul dit met warm water uit die kraan – nie kookwater nie – seël die bottel, skud goed en laat oornag. Gee die knoffelmengsel die volgende dag aan u duiwe.

As u baie duiwe het gebruik groter kanne vir die aanmaakproses. Hy doen dit elke Maandagaand uit gewoonte en gee dit Dinsdag aan die duiwe, twee-en-vyftig dae van die jaar. Ons self het ons knoffeltoediening ietwat gewysig, meer uit gemaksug as iets anders.

Ons maak 'n mengsel van Entero-plus (drie dele), Medimune (een deel), Viroban (halwe deel), knoffelpoeier (halwe deel) en alwynpoeier (kwart deel) aan en gee dan hiervan een opgehoopte eetlepel per kilogram kosmengsel wat met Plume-plus benat is, drie maal per week in die aande oor die duiwe se kos. Of dit die rede is weet ek nie, maar so ver het ons 'n uitstekende wedvlugseisoen agter die rug en nie 'n siek duif in die hok gehad nie.

Die meeste duiweboere pas die voorkomende medisinale programme tydens die wedvlugseisoen vanaf Sondagaand tot Woensdag oggend toe. Van alles wat ek oor knoffel gelees het, het ek niks gevind wat waarsku dat knoffel nie saam met iets anders gelyktydig toegedien mag word nie. Om seker te maak het ek met Dr. Ockie Botha hieroor gesels en hy verseker my dat knoffel saam met enige produk sonder nadeel gebruik kan word.

Volgens Dr Colin Walker van Australië, word die gebruik van knoffel veral sterk aanbeveel in die periode na die speen van ons jongduifies wanneer hulle aan hoë vlakke van stres blootgestel is en hul immuunstelsel ernstig beproef word. Die minerale, selenium en germanium, wat in knoffel teenwoordig is stimuleer en ondersteun die immuunstelsel van die duif en help die jonges om hul natuurlike weerstand sonder die toediening van medisyne te vestig.

As gevolg van die belangrikheid van metionien en sisteien tydens die verveer-proses en die feit dat die aminosure maar skraps teenwoordig is in graansade wat die duiwevoedsel uitmaak, kan knoffel met goeie gevolg tydens die verveerseisoen gebruik word – twee maal per week.

Let op hoe die donsvere 'n dag na die knoffeltoediening val, 'n duidelike aanduiding dat alles wel is met die bloedtoevoer.

Ek moet u egter waarsku dat die gebruik van baie duiweboere om die heel knoffelhuisies, in die duiwe se drinkwater te gooi, geen effek het nie omdat daar baie gou 'n biofilm (lagie) om die knoffelhuisie in die water vorm wat al die goeie eienskappe afseël en die voordele dus uitskakel. Die knoffelhuisie is dan net soos enige ander ontbindende plantagtige materiaal in water, niks werd nie.

U sal onthou dat ek gesê het dat knoffel 'n voedsel is en nie medikasie nie - Ek hoop hierdie artikel sal u opnuut bewus maak van die voordele van knoffel of Allium sativum vir ons duiwe - kos vir oordenking, nê!

Deur Joggie Peters

Find us on Facebook
Follow Us