Handige wenke vir Middelafstandvlugte

In die vorige artikel het ek vir u uitstekende riglyne gegee rakende kortafstand-vlugte en die voorbereiding daarvoor. Middel afstand-vlugte is baie dieselfde, maar geringe aanpassings moet nou geskied aangesien dit oor die middelafstande is waar ons, ons duiwe maklik kan ooreis, en hulle sodoende niks vir langafstandvlugte beteken nie. 'n Voedings-aanpassing is ook nodig.

Middelafstandvlugte strek vanaf 450km to 700km. Dit is die afstand waar baie maklik gure weer en kopwinde kan voorkom en veroorsaak dat duiwe baie langer op vlerk is as waarvoor u hulle voorberei het. Ooreising kan maklik dan intree en dit is dus raadsaam om tydens slegte weervoorspellings jaaroud duiwe en duiwe wat reeds vanjaar aan baie vlugte deelgeneem het ('double ups') terug te hou. Dit is in sulke weersomstandighede raadsaam om net uitgeruste, ervare duiwe te stuur wat die omstandighede beter kan hanteer. Dit is ook raadsaam om u duiwe van die 450km merk af elke derde week aan vlugte te laat deelneem. Dit laat voldoende tyd vir die verslete spiere om te herstel tussen vlugte.

Afrigting en voorkomende gesondheidsmetodes op die middelafstand by dieselfde as die vir kortafstand vlugte en is hier geen aanpasings nodig nie. Die enigste punt wat ek graag wil aanraak is dat die meeste klubs van nou af op Donderdagaande mandjie en nou is die kosgee metode belangrik. Die duiwe moet op Donderdagaand normaal gevoer word totdat die derde duif gaan drink. 'n Ekstra blikkie grondbone moet dan nadat al die duiwe klaar geëet het in hulle kosbak gegooi word. Maak die kos effens nat voor voeding sodat dit nie in die keel verstrop nie. Nat kos gly maklik tot in die krop en sodoende kry die duif dus meer in. Gronbone verskaf daardie ekstra bietjie energie wat nodig is om die lang kilometres af te lê. Grondbone is egter gevaarlik en moet op baie warm dae weggelaat word as temperature 28 C oorskry. 'n Fout wat baie duiweboere maak op Donderdagaand-mandjie, is om ekstra water direk in die duif se krop te spuit. Dit veroorsaak dat u die normale voedingsbehoeftes van die duif versteur en sal hy daardeur olik voel, selfs braak en nie na wense presteer nie. Ek het onlangs ervare duiweboere dit sien doen wat my laat wonder het waar "common sense" in ons sport inkom. Praat nie eers van die mense wat duiwe se neuse versnipper om beter asemhaling te bewerkstellig nie. Dit het nog nooit duiwe vinniger laat vlieg nie en dit was moontlik 'n oplossing in die vroëer jare toe niemand nog geweet het van ordentlike antibiotika vir asemhaling nie. In daardie jare was hokke ook nie so wetenskaplik ingerig soos vandag nie. Dit is 'n uitgemaakte saak reg oor die wêreld dat swak beplande hokke die grootste oorsaak is van asemhalings probleme, siek duiwe, swak prestasies en duiwe wat nooit op vorm kom nie.

Ek wil graag uitwy oor 'n klompie punte wat veroorsaak dat u duiwe nie onmiddellik kom sit van 'n wedvlug af nie en 'n paar algemene wenke aan die hand doen.

Baie duiweboere gebruik 'n "stripper" om duiwe aft e lok, sodra hulle van 'n wedvlug af terugkeer. 'n "Stripper" kan so 'n duif geweldig afskrik as hy nie aan hom gewoond is nie. U moet reeds voor die wedvlugseisoen begin, gereeld u "strippers" na u hok gooi wanneer u duiwe van oefenvlugte af terugkeer. So raak hulle gewoond aan die gooi van die "stripper".

Om gaste oor te nooi wanneer u duiwe klok, is definitief 'n fout, behalwe as die gaste binnenshuis kan kyk hoe die duiwe geklok word. Om 'n klomp gaste buite te laat sit, waaraan die duiwe nie gewoond is nie, veroorsaak dat die duif onseker voel as hy tuiskom en 'n hele paar draaie sal maak om eers te kyk na hierdie vreemde gesigte en kleure om die hok.

Ons gebruik almal 'n afroep metode om duiwe te roep. Sommige gebruik fluitjies, ander 'n blik wat hulle skud, en van ons duiweboere roep ons duiwe en fluit met die mond. Dit is belangrik dat u nie oorreageer met u fluitjie of blik roepery wanneer die duiwe arriveer nie. Wees kalm soos u altyd is en roep en fluit op dieselfde toonhoogte. Moenie bokkoors kry nie.

Sodra u 'n duif teekom wat weier om in te gaan, opvlieg en op die buurman se dak gaan sit, moet so 'n duif geignoreer word. Om hom met klippies te jag, verwar hom net meer en voel hy dat u hom wil verwilder. So 'n duif sal vir die res van sy lewe hoksku wees en uiteindelik daartoe aanleiding gee dat ander duiwe sy gedrag volg. Deur hom te ignorer bou hy nie 'n vrees vir u op nie en sal hy in sy eie tyd hok toe kom en ingaan. Verloor liewer die wedvlug hierdie eenkeer en wen moontlik vele ander deur hom nie bang te maak nie.

Soms sal u vind dat as u duiwe van oefening af terugkeer, hulle nie wil kom sit nie. Dit sal vir u voorkom asof hulle bang is vir iets. Dit ka nook selfs tydens 'n wedvlug gebeur dat 'n duif toemaak om te kom sit en dan weer herhaaldelik oor die hok se dak vlief. As u duiwe hierdie gedrag toon, kan u seker wees dat 'n ongedierte snags of selfs bedags die duiwe steur. Ek het onlangs teegekom by 'n vriend se duiwe en die nodige gestel. (U weet mos wat ek bedoel?) En siedaar, ons het vir ta! Hy wen toe die volgende week se wedvlug – ek moes nooit die strik gestel het nie!!!

In die volgende paar wekegaan baie duiweboere se duiwe wat goed presteer het oor die kortafstande, begin uitsak. Die redes hiervoor:

Die oormatige gebruik van gars. Ek is deesdae 'n groot kritikus van gars en ek glo vas dat gars se plek in die duiwesport beperk is tot 'n suiweringsaad na wedvlugte en matig in die verveer-seisoen.

Lank en oormatige oefenvlugte aan die begin van die seisoen en gedurende die kortafstand-vlugte veroorsaak verslete spiere. Tydens oormatige afrigting, is daar dus ook nie voldoende tyd vir 'n duif se spiere om te herstel nie. Daar moet 'n definitiewe balans tussen afrigting, rus en voeding wees.

Ondervoeding voor die wedvlug-seisoen en tydens die kortafstandvlugte sal ook sy tol eis. Geen duif, resiesperd, of atleet kan 'n seisoen volhou as voldoende voeding nie daagliks aan hulle beskikbaar is nie. Om duiwe oormatig honger te vlieg op die kortafstand-vlugte en te dink hulle sal vinniger "trap", is foutief. Dit kos slegs een harde kortafstand-vlug om u ondervoede-duiwe 'n knou te gee. Voer altyd todat die derde duif gaan drink en na sy sitvakkie gaan. Verwyder dan die oortollige kos of leer om net genoeg te voorsien totdat die derde duif gaan drink.

Byvoeding (vitamienes, minerale, aminosure, spoorelemente en elektrolietes) is daagliks noodsaaklik aangesien duiwe hierdie behoeftes het as gevolg van die strawwe wedvlugte en oefening. U kan nie verwag dat u duiwe elke dag afgerig moet word, onder stres moet verkeer en vir u sy best moet lewer as u nie vir hom voldoende voeding en byvoeding gee om sy taak te kan verrig nie. Gereelde breëspektrum-vitamien toediening word aanbeveel.

Gereelde deelname aan wedvlugte eis ook sy tol. Dit neem ongeveer 14 dae vir 'n duif se spiere om voldoende te herstel na 'n harde wedvlug. Praat nie eers van as u voeding nie voldoende is vir die spiere om te herstel nie. Om duiwe op die middel- en langafstande te "double up" is volgens my mening 'n fout en kan die res van sy wedvlugseisoen geknou word. 'n Duif wat swak van wedvlugte af terugkeer, moet liefs drie weke tot 'n maand kans gegee word om te rus. Die rusperiode behoort as volg te wees: 0 to 450km = 14dae; 450 to 700km = 21dae; 750 to 1200km = 28dae. Duiwe moet gedurende hierdie periodes afgerig word, maar geen wedvlugte nie.

Swak kos is 'n groot rede vir swak prestasies. Maak altyd seker dat die sade in die mengsels van die hoogste gehalte is. Veral die erte en mielies. Ek beveel 'n effe groter, breë mielie met 'n pragtige groot hart aan. Dit maak nie saak of dit geel of 'n rooi mielie is nie.

Deur Derick Streak

Find us on Facebook
Follow Us