Onthou die basiese beginsels op die kortpad

Ons is tans in die begin van hierdie jaar se wedvlugseisoen en ding alle lede van klubs en federasies mee om die gesogte kort distansie titel. Baie van Suid Afrika se duiweboere het al aangeleer hoe om vir die kort distansie voor te berei en dan is daar natuurlik boere wat glad nie sukses op die kort distansie het nie. Hulle is weer dodelik op die langer vlugte. 'n Mens sal ook vind dat ons vriende wat spesialiste is in die kortdistansie se duiwe oor die langer distansies uitsak. Die vraag is waarom hierdie verskynsel plaasvind en wat om te doe nom constant te vlieg dwarsdeur die hele seisoen?

Dit is beslis so dat sekere rasse duiwe beter presteer op die afstande waaroor die familie aanvanklik geskep was. So sal ons vind dat Janssen Duiwe spesifiek geteel was vir vlugte tot en met 600km, aangesien die Janssen broers nie daarvan gehou het om aan lang vlugte en oornag vlugte deel te neem nie. Hulle duiwe was net te kosbaar om die risiko te loop om verlore te raak. Dus het hulle hul teling deur die jare beperk tot duiwe wat vinnig is en hierdie korter distansies voor in die pak kon aflê. Ek het egter in my loopbaan agtergekom dat die Janssens ook die langer distansies suksesvol kan vlieg.

Cattrys duiwe verkies weer die harder, langer vlugte en is weer een van die rasse duiwe wat 'n mens nie moet gebruik om kort distansies mee aan te pak nie. Kortdistansie vlugte verlang duiwe wat deur die jare beproef het om meer suksesvol te wees in vlugte tot en met 400km. Baie sulke duiwe is beskikbaar in Suid Afrika en u kan slegs 'n suksesvolle kortdistansie vlieër word as u van hierdie rasse huisves. Ek noem graag 'n paar rasse wat hierdie kwaliteite besit; Janssens, Lou Wouters, De Zutters, Houbens, Super Cracks, en Verbruggens. Neem egter kennis dat hierdie rasse ook sukses mee behaal kan word op die middle en langer distansies.

Afrigting en voeding is beslis 'n factor met kortdistansies. 'n Goeie vriend van my het eendag genoem dat jou bakkie se wit uitlaatstelsel die enigste sukses is om kortvlugte te wen. Hy was absoluut korrek, aangesien ek nog nooit in ons land 'n kortdistansie kampioen teegekom het wat dit met sirkelwerk verower het nie. U duiwe behoort nagenoeg drie kort vluggies van 20-30km te kry in weeksdae en 'n lang vlug van 120km die naweek oom voor te vlieg op die kort vlugte. Geen sirkelwerk is nou nodig nie. Hou hulle in hok om te rus.

'n Normale kommersiële vliegmengsel wat goeie kwaliteit sade bevat kan met sukses aangewend word en hoe harder u afrig hoe meer voeding moet die duiwe ontvang. Kos moet egter nooit bly lê nie. Duiwe wat hard gewerk het en meer energie verlies het sal automaties meer eet. Voer u duiwe totdat die derde of vierde duif waterbak se kant toe staan. Dit sal veroorsaak dat droë kos nie in die duiwe se kele opstapel en nie gesluk kan word nie. Ek is seker u het al gesien hoe duiwe met hul koppe in die lug staan en sukkel om te sluk as u hulle gevoer het.

Sekere duiweboere het 'n paar jaar gelede dit afgemaak as 'n nuwe virus en nogal verkondig watter antibiotika gebruik moet word. Talle duiweboere het vir hierdie storie geval. Dit is nie 'n virus nie, maar net kos wat droog is en duiwe wat vinnig eet.

'n Groot probleem wat kan onstaan as u besluit om u padwerk te verleng en u duiwe harder afterig vir die korter vlugte, is dat die duiwe gaan uitbrand en u geleidelik op die middle en langer distansies gaan uitsak.Dit moet in gedagte gehou word dat 'n duif saamgestel is uit vere, vleis en been en nie uit pistons, ballbearings en staal nie. Dit is die rede hoekom kampioen-kortpad vlieërs uitsak op die langer, harder vlugte.

'n Mens behoort eintlik twee vlieghokke te hê. Een vir kortdistansie vlugte en 'n ander vir langdistansie vlugte. Daar moet dan ook voorsiening getref word vir 'n spoed familie en 'n middel en langdistansie familie met verskillende afrigting.

Ons sport is gebasseer op 'n klompie basiese beginsels wat in plek moet wees en toegepas moet word om sukses te behaal met ons duiwe. Sodra ons hierdie punte oorboord gooi en "fancy" beginseltjies inspan sal u nooit constant met duiwe presteer nie. U sal vind dat ons land se konstante duiweboere slegs nou en dan 'n duif op 'n veiling aankoop en is daar horde duiweboere wat gereeld baie duiwe aankoop. Dit is hierdie "fancy" beginseltjies wat maak dat hulle altyd veilings toe moet hardloop in die soeke na beter prestasies.

Ek sê nogsteeds dat oorpopulasie in u broei- en vlieghokke nooit sukses vir u sal bring nie. Teelduiwe moet ook genoeg spasie hê in die afseisoen om genoegsaam te rus om goeie jonges voort te bring. Afgematte en stressbelaaide teelduiwe sal nooit vitaliteit-gelaaide jonges voort bring nie. Oorbevolking bring geweldige stress mee in all fasette van die duif en suksesvolle teeling is hierby ingesluit.

Deur Derick Streak

Find us on Facebook
Follow Us