Vlieg om te wen

In die duiwesport vind dieselfde patroon plaas. Tien persent van alle duiweboere ding mee om die klub of federasie gemiddeldes te wen. Twintig persent ding mee om goed te presteer. Die res vlieg net saam, aangesien hulle altyd swak presteer.

Dit is belangrik om vir uself te bepaal in watter kategorie u val. Die vraag moet ook gevra word of u tevrede is met u kategorie. Om hierdie jaar 'n beter seisoen te hê, is maklik en al wat van u gevra word, is om daadwerklik 'n poging aan te wend om te verbeter.

Monitor 'n bietjie u federasie-kampioen en u sal vind dat hierdie persoon totaal en al duiwe eet en slaap. Van my kant af sal ek vir u die goue draad wat deur wedvlug loop, gee. Al wat u moet doen, is om uself daarby aan te pas en daarmee te volhard tot by die laaste vlug. Het u die wil om hierdie strawwe toets te deurstaan?

Op die 3de naweek van April moet u begin om u duiwe om die hok te sirkel. Dit is onwenslik om voor hierdie datum met u afrigting te begin aangesien die duiwe op die laaste trappie van 'n ordentlike verveer-seisoen is.

Ons wil hulle dus kans gee om die laaste primêre penvere te voltooi. (Die primêre penvere in die vlerk van die duif is die laaste tien groot penne. Die binneste tien penne in die vlerk word die sekondêre penvere genoem.) Jong deifies wat voor die eerste Oktober gespeen is, sal nog nie klaar verveer wees nie. Dit laat dus die vraag ontstaan of dit raadsaam is om so te teel dat u teen die eerste Oktober klaar geteel is.

Dit is my mening dat dit wel voordele inhou, aangesien u duiwe klaar verveer is as die nuwe vliegseisoen begin. U moet egter onthou dat duiwe wat na die eerste Oktober gespeen is en tydens die nuwe vliegseisoen nog nie klaar verveer het nie, net so goed kan vlieg en ook wedvlugte wen. Al nadeel wat u het met hierdie laat jonges, is dat hulle neig om in die wedvlugseisoen van daardie laaste penne te gooi wat dan 'n gaping in die vlerk veroorsaak.

So 'n duif moet op daardie stadium nie gevlieg word nie en daar moet eers gewag word totdat die veer uitgegroei het, alvorens die duif weer gemandjie word.

Afrigting:

Kom ons gaan terug na die afrigting van ons duiwe toe. Ons begin afrig op die 3de naweek van April en laat die duiwe sirkel vir tien minute die eerste en tweede oggend, twintig minute die derde en vierde oggend en 'n half uur die vyfde en sesde oggend. Forseer u duiwe om vir hierdie tyd in die lug te bly deur 'n lang stok te neem en 'n groot swart plastiese sak daaraan teheg. Hierdie stok moet voor u hok staan. Die duiwe leer dus dat terwyl hierdie sak in die lug is, hulle nie mag kom sit nie.

U moet hulle egter onmiddelik afroep met 'n fluitjie nadat u die sak verwyder het. Dit is ook op hierdie stadium noodsaaklik dat die kos drasties gesny word om hulle maniere te leer. Hulle sal vinnig inkom as u roep. Gee vir die duiwe slegs een eetlepel kos per duif per ete. Vanaf die sewende dag druk ons die duiwe op na 45 minute se sirkel per dag. U sal vind dat hulle die vlieëry geniet en wegraak van die huis af. Ons noem dit "swerf".

'n Duif begin swerf van die huis af sodra hulle vertroue in hulself en omgewing kry. Hulle begin verder van die huis af vlieg om die dorp of stad te verken en leer gou aan watter bakens naby hulle huis geleë is. U moet toelaat dat die duiwe vir nog 'n week om die huis sirkel voordat u met padwerk begin.

U kan hulle nou 'n uur se afrigting om die hok gee. U sal merk dat ek slegs een maal per dag die duiwe afrig. Ek doen dit met groot sukses en is van mening dat ons duiwe ooroefen. Die klem moet val op kwaliteit-afrigting en nie kwantiteit afrigting nie.

Twee weke nadat die duiwe begin sirkel het, kan ons met hul eerste oefenvlug begin. Die duiwe is op hierdie stadium mandjie-sku, aangesien hulle nooit in 'n mandjie was nie. Hulle sal die eerste dag bietjie wild wees.

Vang al u duiwe, laai hulle op die bakkie en ry met hulle in wedvlugrigting, plus-minus 10km. Soek 'n mooi stukkie veld en laat die duiwe in klein bondeltjies los. Maak seker dat die vorige bondel weg is voordat die volgende vrygelaat word.

Die rede hiervoor is dat jong duiwe nie telefoondrade en heinings ken nie. Hulle is ook nie so vertroud met valke nie. Deur hulle in kleiner bondeltjies vry te laat, sien hulle die drade makliker en is valke beter sigbaar. U moet aanhou om in klein bondeltjies vry te laat totdat die wedvlugseisoen aanbreek.

Daar is genoeg kanse vir massaloslatings wanneer die duiwe met klub- of federasievervoer geoefen word. Twee 10km oefenvlugte moet plaasvind gevolg deur twee 20 km, twee 30 km en drie 40km vlugte. Van nou af kan u spring na 60, 80 en 100 kilometer. U duiwe behoort elke dag, indien moontlik, op die pad te wees.

Beplanning moet van so 'n aard wees dat u duiwe een week voor die eerste wedvlug by die wedvlugpunt losgelaat word. Sodra ons hierdie punt bereik het, een week voor die eerste wedvlug, moet die duiwe vir die daaropvolgende week slegs kort oefenvlugte kry van 20 - 25 kilometer per dag.

Voer hulle onmiddellik as almal by die huis aangekom het. Namate die oefenvlugte langer word, moet die duiwe 'n bietjie meer kos kry. U behoort vanaf een week voor die eerste vlug die duiwe te voer totdat die derde een gaan drink. Neem daarna oortollige kos weg. U sal mettertyd leer hoeveel die duiwe per keer eet en sal dit vir u maklik wees om genoeg kos te gee totdat die derde duif waterbak toe gaan.

Ek rig my duiwe in die oggend af en in die aand word slegs kos en water gegee. U moet self kies of u in die oggend of aand wil afrig. Naweke moet al die duiwe wat nie aan die wedvlug deelgeneem het nie, 'n lang oefenvlug van 100 - 120 km kry. Kort oefenvlugte gedurende die week moet deur al die duiwe uitgevoer word.

Afrigtingstabel:

Sondag: Bad

Maandag: Oefenvlug 20 - 25km

Dinsdag: Oefenvlug 20 - 25km

Woensdag: Oefenvlug 20 - 25km

Donderdag: Oefenvlug 20 - 25km

Vrydag: Rus

Saterdag: Wedvlug

Voeding:

Gewone kommersiële of hoë protein-vliegmengsel kan gebruik word. Dit is egter belangrik dat 'n suiwerings-mengsel ook deel van u voedingsiklus uitmaak. Daar is beslis 'n verandering in wedvlug-uitslae as 'n suiwerings-mengsel aangewend word.

Wat is 'n suiweringsmengsel?

Dit is 'n hoë vesel- / hoë-koolhidraatmengsel wat aan die duiwe gegee word sodra hulle van 'n wedvlug terugkom. Die vesel is moeilik verteerbaar en dien dus as 'n besem om die dermkanaal skoon te vee. Die hoë koolhidraat-inhoud is opgemaak uit sade wat vinnig verteer om onmiddellik energie terug te plaas nadat die duif 'n wedvlug voltooi het. Dit is raadsaam om hierdie mengsel aan al u duiwe op 'n Saterdag te voer en half sterkte vir nog 'n paar dae (Sien voedingstabel.)

Voer u duiwe twee keer per dag en wel tot die derde een gaan drink. Ek is nie 'n groot voorstander van gars nie, maar ek is tog van mening dat dit raadsaam is om op kortafstandvlugte (vlugte tot en met 400km) so 10% gars by u mengsel te voeg.

Ek het al in die verlede 50% gars by my mengsel gevoeg vir kortafstande, maar ek het my, "jy weet wat", deeglik gesien op die langer afstande. Gars en harde vlugte is nie maats nie. Die tien persent gars moet egter verwyder word na die 400km merk.

Voedingstabel:

Sondag: 50% Suiweringsmengsel, 50% Gewone vliegmengsel of hoë protein mengsel.

Maandag: Gewone vliegmengsel of hoë protein mengsel.

Dinsdag: Gewone vliegmengsel of hoë protein mengsel.

Woensdag: Gewone vliegmengsel of hoë protein mengsel.

Donderdag: Gewone vliegmengsel of hoë protein mengsel.

Vrydag: Gewone vliegmengsel of hoë protein mengsel.

Saterdag: Suiwerings-mengsel

Die suiwerings-mengsel wat aangekoop word of self gemeng word, bestaan uit die volgende: Koring 40%, Gars 40%, Rooi Sorgum 7%, Wit Sorgum 5%, Safflower 3% en gestreepte Sonneblom 5%.

Medikasie:

Vanaf drie weke voor die eerste wedvlug moet die volgende sesweeklikse medikasieprogram gebruik word tot aan die einde van die vliegseisoen.

Week 1:

Sondag, Maandag en Dinsdag: Middel wat Kanker en Koksidiose saam bestry.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie.

Saterdag: Stresmiddel wat elektroliete bevat.

Week 2:

Sondag, Maandag en Dinsdag: 'n Antibiotika teen asemhaling, E.Coli en Paratifus.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamiene, mineraal en spoorelement kombinasie.

Saterdag: Stresmiddel wat elektrolietebevat.

Week 3:

Engelse sout: 2 teelepels op 1 liter water. Slegs 'n breë spektrum vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie vir elke dag vir die res van die week teen halfdosis. Geen medisyne.

Saterdag: Stresmiddel wat elektroliete bevat.

Week 4:

Sondag, Maandag en Dinsdag: Middel wat Kanker en Koksidiose gelyk bestry.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie.

Saterdag: Stresmiddel wat elektroliete bevat.

Week 5:

Sondag, Maandag en Dinsdag: Antibiotika teen Ornitose en algemene bakteriese besmetting.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie.

Saterdag: Stresmiddel wat elektroliete bevat.

Week 6:

Sondag: Engelse sout: 2 teelepels op 1 liter water. Slegs vitamien, ,mineraal en spoorelement kombinasie vir die res van die week teen half dosis. Geen medisyne.

Saterdag: Stresmiddel wat elektroliete bevat

Deur Derick Streak

Find us on Facebook
Follow Us