Voeding van wedvlugduiwe

Voeding is die proses wat plaasvind om te verseker dat 'n lewende organisme alle bestandele verkry wat dit benodig om lewe te handhaaf, verslete liggaamsweefsel te herstel of te vervang, te werk en om voort te plant. Hierdie noodsaaklike bestandele is energie in die vorm van koolhidrate (suiker, stylsel en sellulose of vessel) of vet en olies, proteiene of eiwit wat uit sowat 22 aminosure opgebou is of bestaan, makro- en mikrominerale, vitamiene en water. Energie word aangewend om lewens- en liggaamsprosesse deurlopend doeltreffend te laat plaasvind. Dit alles onder toestande van rus en werk.

Werk op sy beurt is weer alle aktiwiteite wat die lewende organisme uitoefen soos om te groei, te vlieg en voort te plant. 'n Liggaam is altyd in 'n mindere of meerdere mate besig met energie-vergende aksies. 'n Lewelose liggaam kan as absoluut 'rustend' beskou word en het geen voedings-behoeftes nie.

Die liggaam omskep koolhidrate in hul boustene naamlik suikers. Dit word as sulks as energieverskaffers vir die liggaam aangewend. Net so word vette en olies afgebreek in boustene bekend as vetsure wat as bykomende energieverskaffers aangewend word.

Energie is die brandstof van die lewende liggaam. Die hoeveelheid wat die liggaam benodig, word bepaal deur die hoeveelheid werk wat die liggaam moet verrig.

Proteiene of eiwit verskaf die noodsaaklike aminosure wat benodig word om liggaamweefsel te bou of te herstel. Dit is ook bestandele van lewensbelangrike chemiese liggaamstowwe soos ensieme en hormone wat liggaamsprosesse doeltreffend laat plaasvind.

Makro-minerale wat die liggaam benodig is kalsium en fosfor. Die mikro-minerale is yster, sink, kobalt, selenium, natrium, kalium, magnesium, swawel, jodium, koper, chloor ens. Al die minerale oefen noodsaaklike funksies uit in die liggaamsprosesse of as bestandele van liggaamsweefsels soos die skelet, hare, vere, spiere en die brein of as bestandele van ensieme, hormone, of intermediëre metaboliete.

Vitamienes word oorhoofs geklassifiseer as vet- en wateroplosbare vitamiene. Vitamiene A, D en E is vetoplosbaar terwyl vitamiene C en die B-kompleks vitamiene wateroplosbaar is. Die B-kompleks bestaan uit onder meer vitamiene B1 (tiamien), B2 (riboflavien), B6 (piridoksien), B12 (kobalamien) en pantoteensuur.

Al die vitamienes is lewens- en werk-noodsaaklik. Water is 80-90% van 'n lewende liggaam en kan eenvoudigerwys as die liggaam se vervoermedium van nutrient, as oplosmiddel, beskou word. Lewe daar sonder is onmoontlik.

Vir die doel van hierdie skrywe is voorafgaande voldoende. Die kompleksiteit van die voorafgaande in die werklike lewensituasie, kan slegs met lywige boekgeskrifte, baie tegnies, ge-illustreer word. Die verskillende voedingstowwe is aangedui, sowel as die oorhoofse funksies wat dit uitoefen en die lewensbelangrikheid daarvan, is beklemtoon.

Voeding sal slegs doeltreffend wees as al die bogenoemde nutriente in die korekte verhouding tot mekaar en ooreenkomstig die lewensomstandighede en aktiwiteite beskikbaar gestel word.'n Motor wat 600km met 'n tenk vol brandstof kan ry, sal dit nie met 'n halwe tenk kan vermag nie.

VOEDINGSBRONNE IN DIE PRAKTYK

Koolhidrate

Dit is produkte wat hoë vlakke stysel, suikers of sellulose verskaf.

Stysel – Mielies, graansorghum, koring, hawer en gars. Eersgenoemde drie is die rykste styselbronne en die energiewaarde neem af namate die veselinhoud, soos in gars, verhoog.

Suikers – Glukose, fruktose en ander. Riet- of tafelsuiker, heuning en melasse is nog die eenvoudigste suikervorm nie. As dit verteer word ontstaan 'n mengsel van bv. glukose en fruktose. Stysel word ook gedurende die verteringsproses afgebou na die energieryke, eenvoudige vorme, glukose en fruktose.

Sellulose – Dit is verharde, laagsverteerbare koolhidraat waarna as vesel verwys word. Sellulose of veseltipes verskil in terme van hulle verteerbaarheid bv. droë lusern en koringsemels is meer verteerbaar as koringstrooi. Hierdie produkte is swak energiebronne as gevolg van die lae verteerbaarheid daarvan.

Proteien- of eiwitbronne

Hierdie produkte is ryk aan proteiene en dus ook aan die noodsaaklike aminosure. Produkte wat bruikbaar is vir die duiwevoeding is vismeel, sojabone-oliekoek, sonneblomoliekoek (hoë protein produkte), melkpoeier, ertjiesade, sonneblomsaad (medium protein produkte) en meelprodukte soos lusernmeel en koringsemels. Die normale saadmengsels vir duiwe se waarde kan verhoog word deur meelprodukte bevattende vismeel, oliekoeke, melkpoeier, lusernmeel en koringsemels, te meng en te verkorrel. Die korrelproduk word dan met die saadmengsel gemeng en so aan die duiwe gevoer.

Minerale en vitamiene

Mineraalmengsels kan permanent in hokke aan die duiwe beskikbaar gestel word. Vitamiene kan periodiek in die drinkwater of daagliks met die saadmengsels gemeng (met 'n kleefmiddel) aan die duiwe verskaf word.

Die ideaal is egter om beide minerale en vitamiene in 'n verkorrelde meelproduk, daagliks te voorsien.

Wan- en ongebalanseerde voeding

Ontoereikende voeding plaas duiwe onder stres omdat dit groei of herstel van verslete weefsels onderdruk, immuunstelsels afbreek en werkvermoë onderdruk. Duiwe wat onder hierdie omstandighede hard moet werk, is hoogs siektekwesbaar ongeag van hoe goed 'n duiweboer se apteek toegerus is. Geen medisyne gaan sulke duiwe in staat stel om te presteer nie. Al is die motor se tenk vol brandstof en die enjin se olie of vonk ontbreek, sal dit geen steek werk kan verrig nie.

VOEDINGSPRAKTYKE WAT DIE DUIWEBOER MOET OORWEEG

Die lewensiklus van duiwe:

1. Afseisoen – verveerproses en rus.

2. Broeiseisoen – grootmaak van kleintjies.

3. Voorbereiding vir die wedvlugseisoen.

4. Wedvlugseisoen – kort- middel- en langafstande.

Hierdie vier fases in 'n duif se lewe gaan gepaard met verskillende behoeftes aan voeding.

Die meegaande tabel illustreer dit duidelik.

FASE ENERGIEBEHOEFTE PROTEINBEHOEFTE VESELBEHOEFDE
Afseisoen Laag, medium Hoog, goeie kwaliteit Hoog
Broeiseisoen Medium plus Hoog, goeie kwaliteit Medium plus
Voor wedvlugte Hoog Hoog, goeie kwaliteit Medium
Wedvlugseisoen
Kortpad <400km Hoog Hoog, goeie kwaliteit Medium
Middelpad <650km Hoog plus Medium plus, goeie kwaliteit Medium
Langpad <650km Hoog plus Medium, goeie kwaliteit Laag

OPMERKINGS

Vesel- en proteinprodukte word aangewend om die energie-inname van wedvlugduiwe te manipuleer.

Proteingehalte en –vlakke word beheer deur middle van verkorrelde produkte. Hoe harder 'n duif werk, hoe groter word sy energiebehoeftes en hoe kleiner die veselbehoeftes. Namate 'n duif ouer word en volwassenheid bereik, verlaag sy proteinbehoeftes. Die duif se behoeftes aan minerale en vitamiene verskil ooreenkomstig die werklas, kleintjies grootmaak of strafheid van die verveerproses. Die voorafgaande is geformuleer aan die hand van praktiese ervaring, literatuur-studies rakende ander diere en die mens en die gevolglike aanwending van gesonde verstand. Wetenskaplike navorsing oor die onderwerp onder werklike praktiese toestande, is broodnodig. Die brandstof- en bymiddel behoeftes van die motor hou verband met die hoeveelheid werk wat van die motor verlang word.

Deur Ernest Pawson

Find us on Facebook
Follow Us