Voorbereiding vir Wedvlugte

Ek wil dit sommer met die intrapslag beklemtoon dat 'n goeie wedvlugjaar begin die vorige seisoen in die broeihokke. Ek was sommer nog 'n jong knapie toe een van Johannesburg se kampioen-duiweboere vir 'n groepie jong manne vertel het 'n kampioen-duif is 'n kampioen vanuit die nespan.

Ek sorg dat teelduiwe gereeld voor die broeiseisoen vir verskillende siektes behandel word. Veral kanker en paratifus.

Dit is van die uiterste belang om genoegsame minerale en groenvoer vir teelduiwe beskikbaar te stel. Hieroor kan baie gesê en geskryf word, maar vir eers volstaan ek daarby.

Ons wedvlugseisoen het reeds begin derhalwe sal ek kortliks 'n paar gedagtes by u laat om aan te herkou.

Afrigting van duiwe vir wedvlugte

Indien vliegduiwe vir maande opgesluit was, word sowat sestig persent gars in normale mengsel aanbeveel as daaglikse voeding vir ongeveer twee weke, voordat met oefeninge om die hok begin word. Nadat die duiwe goed begin sirkel, skaal gars drasties af en na ongeveer drie tot vier weke kan met padwerk begin word.

Indien u duiwe nie gedurende die jaar gereeld, daagliks, of 'n paar keer weekliks, vrygelaat word nie, is dit van kardinale belang om hulle sowat twee maande voor die begin van die seisoen met sirkels om die hok te begin. Eers net so drie tot tien minute die eerste twee weke, veral die jong duiwe. As die eerste oefeninge te vinnig opgestoot word, sê na twintig minute, kan ooreising voorkom.

As die duiwe gereeld gedurende die afseisoen uitgelaat word, bestaan daar geen problem om hulle daagliks vir tussen 15 en 30 minute te sirkel nie. Na twee weke behoort die duiwe maklik 45 tot sestig minute op 'n slag te sirkel en kan met padwerk begin word.

Wanneer met sirkel om die hok begin word, beveel ek aan dat vir kanker, koksidiose, paratifus, ens. behandel word.

Indien 'n veearts in u omgewing beskikbaar is, beveel ek aan dat duiwe na hom geneem word vir ontleding. Behandel dan soos hy aanbeveel.

Wees veral op die uitkyk vir swart neusvratte, waterige oë, ensovoorts wat gewoonlik 'n aanduiding van ornitose kan wees. Behandeling met antibiotika is dan noodsaaklik.

Immunisering teen paramyxo is 'n moet. Inwendige en uitwendige behandeling teen parasiete is ook noodsaaklik sowat vier keer per jaar en selfs baie meer as u probleme ondervind.

Watter sort medisyne moet gebruik word? Hier het u deesdae 'n baie wye keuse, maar ek raai u aan om met ons land se veeartse te praat soos Dr. Wim Peters, Okkie Botha en Bob Conradie. Die manne kan van groot hulp wees.

Padwerk

My ondervinding het geleer om die eerste drie tot vier weke gereeld daagliks met oefenvlugte te gee. Byvoorbeeld: 1 x 5km, 4 x 10km, 5 x 15km, 10 x 30km. Dit geld vir veral jongduiwe wat nie gereeld gedurende die jaar uitgelaat word nie.

Daarna kan u die oefenvlugte stelselmatig na 60, 80, 100 en 120km vermeerder. Dis egter belangrik om nie aanhoudend daagliks sulke lang oefenvlugte te gee nie. Duiwe moet steeds namiddae sowat 40 minute gesirkel word.

Jong duiwe wat gereeld byna daagliks uitgelaat word, is meer ontwikkel en padwerk kan soos volg gedoen word: 1 x 15km, 4 x 25km, 5 x 40km. Daarna kan dit gereeld met afstande tussen 30 en 120km afgewissel word. Let wel dat duiwe steeds namiddae sowat veertig minute gesirkel moet word.

Omdat padwerk die begin van 'n leerproses vir wedvlugte is, is dit belangrik dat die voeding beheer word. Duiwe moet gevoer word elke keer as hulle van 'n oefenvlug af terugkom. Indien u dit die hoofvoertyd van die dag maak, soveel te beter.

Gedurende die tye is dit belangrik om duiwe-soute, Engelse sout, glukose, ens. te gee. Verder beveel ek aan dat u ook met vitamien-behandeling moet begin. My waarneming oor die jare is dat een teelepel gemengde vitamine drie tot vier keer weekliks in vyf liter water meer as voldoende is.

Verder vind ek dat as duiwe se kos effens verminder word, dit raadsaam is om aanvullings soos glukose, heuning, brouersgis, ens. te gee.

Seisoen-padwerk, voeding, sirkel en medikasie gaan hand aan hand. Verskeie programme bestaan wat welslae meebring omdat goeie duiwe puik prestasies behaal ten spyte van foute wat ons as duiweboere maak. Geen oefenprogram kan 'n donkie die July-perdewedren laat wen nie.

Gedurende die seisoen verkies ek Saterdae 100 tot 150km oefenvlug vir duiwe wat nie aan wedvlugte deelneem nie. Na terugkeer van oefen- en wedvlugte, voer ek normaal, maar sukses is behaal deur duiweboere wat reiniging- of suiweringsmengsels vir duiwe gee wat terugkeer op Saterdae. (Dit is 'n mengsel van fyn kosse en witsonneblom).

Gedurende die eerste helfte van die seisoen sal ek nog twee to drie oefenvlugte van sowat 40km gedurende die week inpas. Duiwe sirkel steeds daagliks gedurende die week twee keer per dag vir sowat 40 minute en 30 minute na 'n oefenvlug.

Ek het in verskillende streke van die land gevlieg en oefenprogramme en voeding moet aangepas word. My hoofdoel is om duiwe te laat 'peak' vir naweekvlugte. Ek oefen my duiwe hard oor naweke en elke tweede tot derde week skaal ek oefening baie af en laat die duiwe rus.

Wenk

U moet u familie-duiwe goed leer ken, want party duiwe kan drie tot vyf weke agtereenvolgens gevlieg word en dan op hul beste presteer. Ander weer vlieg uitstekend die een week, maar dan moet hulle sowat vier weke ruskans kry.

Verdere wenke om u duiwe in top vorm te kry, is die gebruik van Engelse sout, glukose, heuning gereeld weekliks op Sondae of Maandae asook knoffel-huisies in water of duiwetee gereeld gedurende die seisoen. Hier kan gewissel word tot Woensdae en die hoeveelhede moet ook aangepas word.

Doen dit en ek kan u die versekering gee dat u 'n baie suksesvolle seisoen sal belewe. Hier kan

Op middel- en langafstandvlugte kan uitstekende prestasies met duiwe wat opgepaar is en van eiers in die nes gevlieg word, veral as 'n duif baie nesvas is presteer dit beter. Daar moet dan die net die nodige aanpassings gemaak word met die oefening om die hok sodat die duiwe geoefen word vir die tydperk wat dit nie op die nes sit en broei nie. Voeding moet ook aangepas word.

Net 'n bietjie liefde tussen u en u duif is noodsaaklik. As u met duiwe praat en henne spog of stel belang, is u reeds 'n goeie duiweboer. As u tyd het, speel met die mannetjies. Geniet dit!

Deur Piet Klue

Find us on Facebook
Follow Us