Wen so die kortafstand-vlugte

Kortafstand-vlugte word deur menige duiweboere beskou as oefenvlugte. Ander meen weer dat dit slegs 'n klokkompetisie is. Ja, en dit is so, dat daar geen glorie verbonde is aan hierdie vlugte nie. 'n Feit wat egter soos 'n paal bo water staan, is dat kortafstand-wedvlugte 'n deel uitmaak van al die vlugte waarin jy moet presteer om die Klub- of Unie-kampioen tewees. Indien jy hierdie vlugte nie met mening aanpak nie, kan jy vergeet om voor te eindig op die punteleer. Die kompetisie vandag is baie harder as in die jare sestig en sal jy beslis nie die manne wat voor is vang as jy slap lê in hierdie vlugte nie. Ek is ook oortuig daarvan dat die metodes wat destyds gebruik was, sowel as die medikasie, heelwat meer gevorder is vandag.

AFRIGTING

Om suksesvol te wees in kortafstand-vlugte moet u tyd tot u beskikking hê vir daaglikse kortoefenvlugte. Die goue draad van sukses in kortafstandvlugte lê hierin versteek. Tydens hierdie oefenvlugte maak ons gebruik van plofkrag-werk. Dit is wanneer 'n atleet sy spiere teen 'n maksimum werkverrigting vir 'n kort periode laat funksioneer. Dit is dieselfde as 'n 100 of 200m "sprint". 'n Duif vlieg die eerste 10-20 minute na loslating teen hierdie maksimum inspanning en skakel daarna geleidelik oor na stamina-werk om die res van die distansie wat voorlê, te voltooi. Ons stel grootliks belang in die plofkrag afrigting en in 'n mindere mate stamina-werk. Ek stel die volgende oefenvlug program voor vir kortafstand-vlugte.

Vanaf 6 weke voor die eerste vlug moet u die duiwe geleidelik afrig totdat u die eerste wedvlugpunt bereik een week voor die eerste wedvlug.

Gee elke dag (oggend of aand) vir hulle 'n oefenvlug van ± 25km en geen verdere afrigting om die huis nie. (Plofkrag werk)

Saterdag moet alle duiwe wat nie aan die naweek se vlug deelgeneem het nie, 'n 120km oefenvlug kry (Stamina werk).

Alle oefenvlugte moet in wedvlugrigting plaasvind.

Oefenvlugte moet so voortgaan totdat u die 500km merk bereik.

Indien u nie elke dag tyd het nie, moet dit elke tweede dag geskied en weld an oor 40km. Die dag tussenin moet u duiwe gesirkel word vir 45 minute en wel slegs een keer per dag.

VOEDING

Maak gebruik van 'n hoë koolhidraat wat 'n 5 mielie/2 ert verhouding bevat. Onthou altyd dat die blinkste kos nie die beste resultate lewer nie. Dit gaan alles oor die kwaliteit van die sade tesame met skoon kos. Ek beveel aan dat u die kos was, veral as muise, phostoxin of miet daarmee in aanraking was. Ek sal liewer sulke kos weggooi. Om duiwekos te poleer (poets) is belangrik. Gaan vir 'n gepoleerde mengsel met uitstekende sade. Vermy gars sover as moontlik en beperk tot net Saterdag, Sondag en Maandag. Indien u daagliks baie gars by u mengsels voeg, kan ek u verseker dat u die prys sal betaal op die langafstand-vlugte en veral as die vlugte baie moeilik is.

Voer so:

1. Saterdag kry al die duiwe in die vlug 'n "depurative" fynsaadmengsel, soveel as wat hulle wil eet. Deputative mengsels is te koop by die voorste duiwewinkels en bevat reeds heelwat gars.

2. Sondag en Maandag kry al u vliegduiwe 50% vliegmengsel/50% "depurative" mengsel tot 3de duif gaan drink.

3. Vanaf Dinsdag to Vrydag gee u 'n vliegmengsel totdat die derde duif gaan drink. Maak eers kos 'n bietjie nat met water voordat u voer. Dit sal verhoed dat die mielies verstop in die duif se keel en sal u beter kan bepaal wanneer hulle genoeg ge eet het.

4. Indien u op 'n Vrydag mandjie vir die kortafstandvlugte, is dit baie belangrik dat u slegs die duiwe op Vrydag oggend, tot die 3de duif gaan water drink, voer. Die res van die dag net water. Die rede hiervoor is dat die duiwe Saterdag redelik honger sal wees en vinnig afkom agter kos aan. Sodoende klok u ook vroeër. Sommige Unies mandjie reeds vanaf die eerste vlug op 'n Donderdagaand en moet u die duiwe dan ook Donderdagaand voer totdat die 3de duif gaan drink.

5. 'n Breë spektrum vitamien, mineral en spoorelement kombinasie moet gereeld voorsien word as byvoeding oor die kos of in die water. Ek stel voor so elke tweede dag.

MEDIKASIE

Oorbevolking, foutiewe hokke, swak duiwe en 'n gebrek aan kennis rakende siektetoestande is die meeste duiweboere se ondergang. 'n Mens moet egter die beste van 'n slegte saak maak en gee ek dus aan u 'n goeie riglyn hoe om u duiwe gesond te hou deur die vliegseisoen. Kropkanker, Paratifus en Asemhalingsiektes is by verre ons grootste probleem in die binneland. Langs die kus is koksidiose ook 'n probleem. Dit is dus hierdie 4 grotes wat die meeste aandag verg en stel ek die volgende siklus voor.

Week 1:

Sondag, Maandag en Dinsdag: 'n Antibiotika teen asemhaling wat vitamienes bevat.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamiene, mineraal en spoor-element kombinasie.

Saterdag: Stressmiddel wat elektroliete bevat.

Week 2:

Sondag, Maandag en Dinsdag: Middel wat kanker en koksidiose saam bestry.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamien, mineraal en spoor-element kombinasie.

Saterdag: Stressmiddel wat elektroliete bevat.

Week 3:

Sondag: Engelse sout 2 teelepels op 1 liter water. Daarna slegs 'n breë spektrum vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie elke dag vir res van die week tot Vrydag teen halfdosis.

Saterdag: Stressmiddel wat elektroliete bevat.

Week 4:

Sondag, Maandag en Dinsdag: Antibiotika teen E-Coli en Paratifus wat vitamienes bevat.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie.

Saterdag: Stressmiddel wat elektroliete bevat.

Week 5:

Sondag, Maandag en Dinsdag: Middel wat kanker en koksidiose gelyktydig bestry.

Woensdag, Donderdag en Vrydag: Breë spektrum vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie.

Saterdag: Stressmiddel wat elektroliete bevat.

Week 6:

Sondag: Engelse sout 2 teelepels op 1 liter water. Slegs vitamien, mineraal en spoorelement kombinasie vir die res van die week teen half dosis. (Geen medisyne)

Saterdag: Stressmiddel wat elektroliete bevat.

Begin dan weer vanaf week 1. Behandel al u vliegduiwe elke week gelyktydig. U hoef nie duiwe spesiaal te behandel vir 'n vlug nie. Hulle moet net gesond wees.

OPMERKINGS

1. Deel u duiwe in twee spanne vir wedvlugdoeleindes oor die kortafstand-vlugte.

2. Ek besef daar is baie middels en "muties" op die mark wat in bogemelde program ingewerk kan word, as ekstra "hoop-ek-wen" middels. Muties was ook al baie duiweboere se ondergang. Moenie vir almal luister nie.

3. U sal sien uit bogemelde program dat ek geweldig ingestel is op vitamienes, minerale, spoor-elemente en stressmiddels wat elektroliete bevat. Ontou dat ons elke dag die beste van ons duiwe verwag en vliegmengsel alleen, is nie genoeg nie. Voedingsaanvullings is dus daagliks nodig, aangesien hulle daagliks gedruk word om vir u Saterdag sukses te behaal. So bly hulle sterk vir die langafstand-vlugte wat voorlê en brand nie uit nie.

Deur Derick Streak

Find us on Facebook
Follow Us